Food for Though

Wie is die seisoenale werker – die paar hande wat die oes moet afhaal? Seisoenale werkers word meestal geag vir hul hande wat in hoogseisoen in groot getalle na plase gebring word om oeste vinnig af te haal. Maar wie is hierdie mense en wat is hulle behoeftes?

Watter mens by sy volle positiewe sal sy redelik ingerigte huis of plakkershut, sy vrou of girlfriend, sy kinders, sy bed, toilet, wasbak, TV en vriende agterlaat om in ‘n hostel op ‘n plaas te gaan bly tydens oestyd? Hierdie mens is tevrede om ‘n hostel/kamer te deel met ‘n groep mense wat hy meestal nie ken nie. Een vertrek gepak met meestal stapelbeddens met dun matrassies, geen pakplek en in baie gevalle geen tafel vir kookplek nie, word sy tuiste vir ‘n periode van 3 tot 6 maande. Sakke en tasse met kos en klere word onder beddens ingedruk weens ‘n gebrek aan ruimte en van privaatheid is daar geen sprake nie.

Moenie ‘n fout maak deur te dink dat die seisoenale werker se plakkershut swakker daaraan toe is as die hostel waarin hy op die plaas bly nie. Plakkershutte deesdae is voorsien van kragpunte, spoeltoilette, lopende water en ‘n buite wasbak. Erfies is omhein en groentetuine word aangelê. Mense kuier oor en weer, Sondae word kerk gehou, vroue pas mekaar se kinders op en in klein skuurtjies blêr harde musiek, pool gespeel en bier gedrink.

Dit spreek dan vanself dat die enigste rede hoekom seisoenale werkers bereid is om van plaas tot plaas te trek, is om GELD te maak. Net soos ek en jy. Dit verklaar dan ook waarom veral swart mense maklik kibbel oor stukwerkpryse.

Verder word seisoenale arbeid op ‘n ‘no work, no pay’ basis gehuur en bestuur. Ons bevestig dus aan hierdie werkers dat geld die belangrikste middel is waarmee ons bestuur. Dit lei tot ‘n groot dringendheid om wanneer daar werk is, geld te maak. Werkers hou hul ore op die grond om te luister watter plaas die beste stukwerkprys betaal. Ek sou sekerlik die opsie kies waar ek die meeste geld kan maak, veral as ek verantwoordelikheid op verskillende plekke het, want my vrou en kinders is gewoonlik by my ma ‘in die land’ terwyl my girlfriend en haar kinders by my is waar ek werk.

Tog word ek telkens verras deur die lojaliteit wat daar tog is. Ek staan verstom oor spanleiers wat dit regkry om hul span bymekaar en gemotiveerd te hou. Daarom WEET ek dat geld nie die enigste bepalende faktor is waarmee seisoenale arbeid suksesvol bestuur kan word nie. Menswaardige behandeling, goed ingerigte blyplekke, ‘n TV om sokker te kyk, ‘n gelyk stuk grond waarop sokkerspanne kan oefen en kompeteer, erkenning en ‘n dankie, skep ‘n aangename werkatmosfeer waarheen werkers graag volgende seisoen sal wil terugkeer.

Dink bietjie na oor hierdie mense wat tydelik in jou diens is, wat baie tuis los om oeste af te haal en wat bereid is om meestal met slegs stukwerk ‘n lewe te maak. Hulle geniet geen werksekuriteit nie en deel nie in die voordele van die plaas nie. Dink bietjie oor hierdie mense se spesiale behoeftes en laat hulle deel voel van die plaas terwyl hulle by jou werk.