Landbouweekblad 2013

Me. Elza van Zyl, eienaar van die arbeidsmakelaar besigheid Khulani in Clanwilliam, gee werk vir tussen 350 en 550 mense deur die jaar. Werk is seisoenaal. Werkers ontvang termynkontrakte vir die periode wat daar op plase geoes word. Spanne word deur die jaar tussen plase geskuif afhangende van waar werk beskikbaar is. Sy sê dat sy Cosatu se probleem met arbeidsmakelaars verstaanbaar is, omdat werknemers in sommige sektore deurlopend by dieselfde instansies gekontrakteer word. Hierdie werkers werk soms jaar in en jaar uit by dieselfde besighede, maar word nie permanente kontrakte aangebied nie omdat die besighede nie in die werkers wil belê nie.

Landbou se situasie is egter heeltemal anders omdat boerdery geweldig seisoenaal is. “Baie van die boerderye waar Khulani se spanne werk, se arbeidsbehoeftes vermeerder met tussen 300% en 800% in seisoentyd. Na oestyd is daar egter nie werk vir soveel mense op plase nie.

Van die voordele van arbeidsmakelaars in die landboubedryf is dat werk regdeur die jaar werk by verskillende kliënte verskaf word. Werkers word deur die jaar blootgestel aan verskillende tipes werk sodat hulle vaardighede voortdurend vermeerder en dienslewering aan kliënte gevolglik ook verbeter. Die bemarkbaarheid van werkers verbeter daarom ook. Khulani maak seker dat werkers billik behandel word, onderhandel verbeterde pakkette en verseker dat omstandighede op plase aan wetgewing voldoen. Die kliënt se administratiewe las word ligter gemaak deurdat die makelaar as werkgewer optree, werkers dienooreenkomstig arbeidswetgewing kontrakteer en betaal, asook verantwoordelikheid vir statutêre vereistes en betalings aanvaar.–Baie boere sukkel met al die red tape wat gepaardgaan met indiensneming van werkers, veral tydelike werkers wat soms wissel binne spanverband.

Me van Zyl wys ook daarop dat haar werkers weet dat die werk meestal uitslaap op plase behels en dat hulle gegear is daarvoor. Baie van hulle bel haar ook as werk in ‘n area na ‘n einde se kant loop om te hoor waarheen hulle volgende gaan. “’Wat vir my die lekkerste is van my werk, is om te sien hoe werkers en hulle gesinne finansiële vooruitgang maak. Baie het kom aanklop vir werk met amper niks’, vertel Van Zyl. Dit is ook baie bevredigend as ‘n kliënt so tevrede is met ‘n span werkers, dat hy voortydig skakel om seker te maak dat hy dieselfde span vir volgende jaar se seisoen kan kry.

Dit is ongelooflik om te sien hoe werkers begin verstaan watter belangrike bydrae hulle tot die bedryf maak.

Sy voel dat die sogenaamde bakkie-makelaars die eintlike probleem in die bedryf is, want hulle is nie soos groter makelaars geregistreer by SARS, Agri-Seta, WVF en die Ongevalle Kommissaris nie. Hulle kan eenvoudig nie aan al die administratiewe vereistes voldoen nie omdat hulle nie oor die nodige infrastruktuur beskik nie. Hierdie informele makelaars kan hulle dienste teen laer pryse vir boere aanbied omdat hulle uitgawes minder is . Syself moet egter aan al die wetlike vereistes vir werkgewers voldoen, asook addisionele vereistes vir plase wat GlobalGap, SIZA en Fairtrade akkreditasies ondergaan.

Haar raad aan boere is om aan te dring op ‘n IRP30- of belastingvrystelling sertifikaat wanneer hulle makelaars se dienste wil gebruik. Hierdie dokument wat deur SARS uitgereik word, stel boere vry sodat hulle nie verantwoordelik gehou word vir LBS belasting wat normaalweg van salarisse en lone afgetrek moet word nie. Die makelaar is verantwoordelik vir sy/haar eie belasting verantwoordelikhede. Sy beveel ook aan dat boere nie van bakkie-makelaars gebruik maak nie, omdat die mense die industrie ‘n baie slegte naam kan gee deurdat van hulle nie altyd eerlik met hul werkliks se lone omgaan nie. Hulle kan dan nie opgespoor word nie, omdat hulle nêrens geregistreer is nie en nie altyd vaste adresse het nie.